Gebruik van elektriese kitaar in ‘n lofprysing band

Oorspronklik geskryf deur Werner Carstens vir die Fuurhoutjie nuusbrief van www.flam.co.za. Gebruik met toestemming. 

’n Rukkie terug vra die Lig en Lewe selkerk hier in die Paarl my om ’n werkswinkel aan te bied oor die gebruik van elektriese kitaar in ’n lofprysing band. Behalwe vir die tegniese aspekte deel ek toe met die bandlede wat ek noem “die goue reëls” vir elektriese kitaarspelers. In kort opgesom gaan dit oor die paar dinge wat ek glo elke elektriese kitaarspeler moet besef en toepas as jy in ’n lofprysing band wil speel. Hierdie dinge is goed wat ek geleer het uit ’n kombinasie van baie speel, foute maak, weer probeer en aan die voete van ander sit om te hoor wat hulle geleer het. Die lys groei steeds, is definitief nie klaar nie en sal aanhou groei tot ek hierdie aarde verlaat. ’n Mens sal sekerlik hierdie reëls en beginsels op ander instrumente ook kan toepas, maar my fokus is op elektriese kitaarspelers aangesien ek vind dat die elektriese kitaar nog baie misverstaan word in ’n lof-en-aanbidding omgewing. Ek is ook seker dat sommige met my opinies gaan verskil – en dit is hulle volste reg – maar in daardie geval vra ek dat ons ten minste die gesprek aan die gang sal hou ten bate van almal. Op pad huis toe na die werkswinkel kom die vraag toe by my op hoekom ek dit nog nie met al die Fuurhoutjie lesers gedeel het nie? Wel, hier is dit en ek hoop dat dit vir julle van waarde sal wees.

Reël 1: Jy is nie die main attraction nie
Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan oor die Here. As dit vir jou belangrik is om die “shine” te vang en raakgesien te word, begin asseblief jou eie sekulêre band. In ’n lof-en-aanbiddings band moet die kollig op die Here val. Jy sal dus nie daardie stunning 10 minute solo van Van Halen of Slash wat jy noot vir noot uitgewerk het, kan speel nie. Vra jouself gereeld of dit wat jy nou speel mense op die Here laat fokus of hulle aandag aftrek. ’n Mens word nie famous in ’n kerkband nie – die Here word.

Reël 2: Kyk vir die worship leier
Worship leiers wil graag die vryheid hê om aan die struktuur van liedjies te verander wanneer dit gesing word en soos hulle glo die Heilige Gees hulle lei. Partykeer sal hulle die liedjie se koor 2 of 3 keer na mekaar wil sing, ander kere die eerste vers herhaal, partykeer die gemeente die koor sonder musiek laat sing – en dit is natuurlik glad nie soos julle die songs geoefen het. Een van die grootste geskenke wat jy die band leier kan gee is om hom/haar die versekering te gee dat jy hulle sal volg en die tekens sal raak sien (watter tekens julle ook al ooreengekom het) wanneer hulle dit gee. Daar is min dinge wat ’n worship leier soveel confidence gee soos die wete dat die band sal volg waar ook al hulle musikaal gaan. Om die leier te volg moet jy jou oë oop hou en die leier dophou. Ek het al gesien hoe pragtige oomblikke verbygegaan het omdat musikante met toe oë op die verhoog “die Here aanbid” het en daarom nie die leier kon volg nie. Hiermee sê ek nie dat die musikante nie die Here moet aanbid nie. Wat ek wel sê is dat jou hele lewe ’n aanbidding tot God is en nie net die halfuur wat jy Sondagoggend en/of aand in die band speel nie. Jou werk in die band is om die leier dop te hou en te volg en dit is deel van jou aanbidding.

Reël 3: Weet wat jou toerusting kan doen
Ek is seker daarvan dat jy nog nooit al die funksionaliteite van daardie effect pedal van jou leer ken het nie. Wanneer laas het jy die manual gelees? Ek is ook seker dat daar klanke in jou amplifier is waarvan jy nie eers bewus is nie. Wanneer laas het jy na die verskillende pick-up settings op jou elektriese kitaar geluister of die amazing effek as jy met die Tone en Volume knoppe op die kitaar speel? Ons wil gereeld ’n nuwe kitaar, amp of pedal koop want ons glo dat daardie klank wat ons in ons koppe hoor in ander toerusting leef as in dit wat ons reeds het, maar die realiteit is dat daar magic goed weggesteek is in die toerusting wat ons klaar het. Ons gaan dit egter net ontdek indien ons weet wat dit kan doen. So lees asseblief die manuals. Sit ’n uur of 2 weg en draai al die knoppe op jou amplifier op verskillende kanale soos jy speel en luister. Maak die Volume vol oop en hou die Gain laag. Ruil dit dan weer om en luister. Draai bietjie die treble oop op jou amp en draai die tone af op die kitaar. Klink anders ne? Eksperimenteer en spaar jouself baie geld.
As jy presies weet wat jou toerusting kan doen kan jy presies weet hoe om so gou as moontlik daardie klank te kry wat die bandleier so pas uitgedink het en onmiddellik wil hoor. Indien nie presies nie, sal jy ten minste naby dit kan kom sonder om iets nuuts te gaan koop.

Reël 4: Luister eers, dink bietjie, en dan speel jy…dalk
Kom ons tel gou al die instrumente van ’n normale kerk band bymekaar: 1 tromstel, 1 baskitaar, 1 akoestiese kitaar, een keyboard/klavier en dan een hoofsanger met minimum 2 agtergrondsangers. Dit beteken dat daar reeds 4 instrumente en 3 stemme is – voordat die elektriese kitaar bykom. Die harde feit is dat die band stunning en baie vol kan klink sonder ’n elektriese kitaar. So hoekom is ons dan daar? Wel, ek glo ons is daar om die icing op die koek te sit. Met party liedjies is ons die hoofinstrument, maar in lof-en-aanbidding kry ons hierdie geleentheid maar min, behalwe as jy in die Planet Shakers, United of Jesus Culture bands speel (of hulle songs natuurlik). Die meeste van die tyd moet ons luister na wat die ander instrumente speel en dan met iets opkom wat inpas sonder om teen ’n ander instrument te baklei. Dit vat baie volwassenheid en as dit ’n probleem is vir jou, lees asseblief weer Reël 1. Ons moet luister na waar daar gapings in die musiek is en ons moet dit vul en mooi maak. As mens so daarna kyk maak daardie vol G-akkoord met heavy distortion wat jy in die middel van die stadige worship song wou speel dalk nie meer sin nie. Miskien moet jy dalk net die middelste 3 van die 6 snare speel sonder distortion aangesien die baskitaar klaar die bas en die keyboard klaar die boonste note speel.
Ek probeer dit baie keer verduidelik dat elektriese kitaarspelers emosie moet oordra. Probeer altyd bepaal wat die emosie is wat die liedjie ondersteun en speel na daardie emosie toe. Ek het al verskeie kere heeltemal stil gebly in sekere liedjies – ’n baie goeie manier om die band vinnig te ontsenu. Gewoonlik kom die vraag dan redelik vinnig of daar iets fout is. My antwoord is dan baie eerlik dat indien die ander lede van die orkes te besig is (baie speel) daar dalk nie meer plek is vir my om in te pas nie, of dat die emosie reeds great oorgedra word met die huidige instrumentasie en dat elektriese kitaar nie nodig is nie. Onthou, jy hoef nie te speel om ’n liedjie goed te laat klink nie. Luister eers, dink bietjie, en sit dan die icing op.

Reël 5: Gebruik minder effekte
Indien jy reël 4 mooi verstaan sal hierdie een sin maak. Met al die instrumente en stemme wat reeds daar is moet jy ’n plekkie kry vir jou elektriese kitaar om tussen al die ander klanke nog steeds gehoor te kan word. Hoe meer effects jy gebruik (Reverb, Delay, Chorus, Distortion ens.) hoe minder gedefinieerd word jou klank en hoe moeiliker kan dit onderskei word van die ander instrumente. Moenie bang wees om effects te gebruik nie, maar moet asseblief nie alles saam gebruik nie. Wanneer ek heavy distortion gebruik, sit ek byvoorbeeld alle ander effects af. Hoe ligter die distortion word hoe meer sal ek byvoeg, maar ek hou dit altyd aan die konserwatiewe kant.
Onthou asseblief dat die patches wat jy kry op multi-effect units (wanneer jy dit koop)  opgestel is om te kan wys waartoe die pedal in staat is en nie om net so live te gebruik nie.

Reël 6: Wees getrou in die kleine
Ken jou songs, ken die chords, ken die klanke wat jy gebruik en daag voorbereid op vir oefeninge en dienste en sorg dat jou toerusting in werkende toestand is. Betroubare musikante wat “minder” goed is, sal altyd gebruik word bo die “amazingly stunning” kitaarspelers wat nie vertrou kan word met die basiese goed nie. Party ongelooflike musikante haal nooit die kerkband nie (of bly nie lank nie) omdat hulle net eenvoudig nie die dissipline het om dag na dag en week na week getrou te bly nie. Jou karakter is belangriker as jou skill. Laat ’n mens dink ne?

Reël 7: Koop ’n tuner
Jy kan die hotste guitarist wees wat die kerk nog ooit gesien het, maar as jy uit tune speel, gaan dit suck. Harde woorde, maar bitter nodig. Al jou moeite om die songs perfek reg te speel en al die ure wat jy spandeer het om die regte sounds te kry uit jou kitaar, amp en pedals sal net mooi niks beteken as jou kitaar vals is nie. Koop asseblief ‘n tuner en tune jou kitaar voordat julle begin speel. Maak ook asseblief seker dat die tuner die guitar se output “mute” as jy dit aansit, want dan kan jy tussen liedjies tune indien nodig, sonder dat die hele gemeente daarna hoef te luister. Praat van ’n passion killer…

Reël 8: Jy het nie ’n 100 Watt amp nodig nie
Het iemand al ooit vir jou in die kerk gevra om jou amp harder te sit? Indien wel, laat weet my asseblief. Nee, gewoonlik is ons te hard en word gevra om die amp sagter te sit. Om dan te verduidelik dat jou nuwe 100 Watt double stack Marshall amp eers goed klink op 4 en dat die res van die band dan ongelukkig gaan “mime” en die hele gemeente se skilfers teen die agterste muur van die kerk gaan vassit, gaan nie help nie. Die realiteit is dat die muur van amps wat agter jou gunsteling guitarist staan op daardie stunning DVD van hulle live show in Wembley, nie gaan werk in jou gemeente nie. (Let asseblief mooi op dat die live show nie in ’n kerk opgeneem is nie, maar wel in ’n stadion met 80 000 mense). Ek het nog nooit meer as 15 Watt (valve amps) of 40 Watt (solid state amps) gebruik in selfs die grootste kerke waarin ek nog gespeel het nie. Al wat jy moet regkry is om jouself te kan hoor. Sit ’n mikrofoon voor die amp en laat die klankmanne oor die res worry – jy kan in elk geval nie die klank namens hulle doen dit nie, tensy jy verhoudings vir ewig wil versuur.

Reël 9: Dink oor die verskil tussen skill (tegniese vermoë) en salwing
“Salwing” is ‘n groot woord en ons kan ure daaroor redeneer en ek glo dat baie mense skill met salwing verwar. In die mees praktiese sin glo ek dat salwing daardie ding is wat die Here bysit by dit wat jy speel wat mense beïnvloed en verander. Dit is daardie magical iets wat mense nader aan die Here bring.
Beteken dit dat ons net salwing moet nastreef en nie skill nie? Geensins, want die Bybel is baie uitgesproke daaroor dat ons al ons talente moet ontwikkel. Die Bybel sê ook baie duidelik dat die Here skill gaan seën – en wat is nou beter as ’n blessing? Maar dit sê nie dat skill salwing gaan hê nie. Ek glo dat daar salwing gaan wees op dit wat jy speel indien (1) jou hart en lewe reg is voor God en (2) indien jy ‘n werklike liefde het vir die gemeente wie jy dien as musikant. Meng dit met skill en the sky is the limit.

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s